In hulle eerste jaar aan die Noordwes-Universiteit van Potchefstroom het David en Mariaan mekaar ontmoet deur ’n gemeenskaplike vriend wat oortuig was dat die twee vir mekaar bedoel is.
Die twee het egter ná die eerste ontmoeting besef dat die vloei van gesprekke heeltemal spontaan was, maar dat David nie in ’n verhouding kon wees met ’n dame wat brandewyn drink nie, en dat Mariaan nie met ’n man in ’n verhouding kon wees wat trou gesweer het aan die koshuis Over de Voor nie.
Dit was egter meningsverskille wat beide vining sou oorkom, na aanleiding van die trou-uitnodiging wat julle vandag ontvang het.
Op 3 Desember 2001 is Mariaan gebore in Upington. Dit is hier waar sy haar kinderjare sou deurbring as Kalahari-kind, en waarheen sy later sou terugkeer nadat sy haar studies voltooi het, om te begin werk as ’n rekenkundige klerk by Du Toit Van den Heever.
David is op 29 April 2002 in Potchefstroom gebore en is nog steeds van mening dat net mans met sterk persoonlikhede met ouer vrouens kan trou, terwyl Mariaan weer van mening is dat jy hulle jonk moet kies sodat jy hulle kan grootmaak soos jy hulle wil hê.
David sou later verhuis na Otjiwarongo en daarna na Outjo, waar hy sy kinderjare deurgebring het en sy skoolloopbaan voltooi het. Nadat hy sy studies “soort van” voltooi het, het hy teruggekeer Namibië toe waar hy begin werk het as rekenkundige klerk by BDO Namibië.
Die aanpassing van ’n 1000 km se afstand tussen hulle was groter as wat enige van die twee sou dink. Ná ongeveer ’n jaar en baie kilometers agter liefde aan ry, het David in April 2026 besluit om Mariaan se hand in die huwelik te vra, omdat die brandstofprys buitensporig geraak het (of ten minste is dit die rede wat die skoonfamilies wou glo).